Gereformeerde Onderwys – Hoekom? (3)

Opsomming:

Wie se verantwoordelikheid is dit om by verbondskinders ‘n gereformeerde wêreldbeskouing te kweek?

Die Here gee ‘n primêre verantwoordelikheid aan die ouers, maar in Sy genade gee Hy ook twee hulpmiddele aan die ouers, naamlik die kerk en die skool. Die primêre opvoeder en sy/haar hulpmiddele moet egter ‘n ooreenstemmende boodskap aan die kinders verkondig, sodat seker gemaak kan word dat die kinders behoorlik onderrig word, en nie onnodig verwar word nie. Hierdie verhouding tussen die ouers, kerk en skool word in meer detail ondersoek.

Verhouding tussen skool, kerk en ouers

In ons vorige artikel het ons gesien dat die kweek van ‘n gereformeerde wêreldbeskouing noodsaaklik is vir die opvoeding van ons kinders ooreenkomstig ons doopbelofte, maar dat ‘n skool wat nie ‘n Christelike wêreldbeskouing in sy vakinhoud na vore laat kom nie, nie kan meewerk in die vestiging van die korrekte wêreldbeskouing nie.

In hierdie artikel wil ons graag kyk na die verhouding tussen die ouers, die kerk en die skool as dit kom by die onderrig en opvoeding van ons verbondskinders. Hierdie verhouding word baie maal verduidelik aan die hand van ‘n driehoek, waar elkeen van die partye ‘n sekere rol of verantwoordelikheid het. Dit sal egter duidelik word dat hierdie driehoek nie ‘n gelyksydige driehoek is, waarvan al drie die bene ewe lank is nie.

Elkeen van hierdie drie aspekte het ‘n eie invloed op die kind. Die gevaar sluip in wanneer die waardes en boodskap van die drie verskillende aspekte nie in harmonie met mekaar is nie. Dan word kinders verwar en onsekerheid kruip in.

Die uitgangspunt is dat God dié drie sfere van gesag ingestel het – daar is immers geen gesag wat nie van God af kom nie (Rom 13:1), en elkeen van hierdie sfere het sy eie grense. Ons kan sê dat aan die kerk die sleutels gegee is (Matt 18:18), die lat aan die gesin gegee is (Spr 22:15) en dat aan die owerheid die swaard gegee is (Rom 13:4).

Ons kyk vervolgens na elkeen van hierdie drie.

Ouers

By die doop van hulle kinders belowe elke gereformeerde ouerpaar om hulle kinders in die gereformeerde leer na “vermoë te onderrig en te laat onderrig”. Hierdie belofte is deels gebaseer op die opdrag wat ouers van die Here ontvang in Deut 6:6-7, nl. “Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.” (AFR83) en ook Ps 78:3-7 waar die ouers opdrag gegee word om die werke en voorskrifte van die Here aan die volgende geslag oor te dra.

Die opdrag om ons kinders te onderrig en ‘n gereformeerde wêreldbeskouing te kweek, is dus primêr op die ouers gerig. Dit kom na vore ook uit die woordorde in die doopbelofte – ons beloof eers om self te onderrig, en daarna om te laat onderrig. Die Here se opdrag in Deut 6 is duidelik aan die ouers gerig, nie aan die kerk of aan die skool nie. Dit is ongelukkig so anders as wat baie ouers die opdrag vandag beskou. Hoe baie ouers is nie van mening dat dit die kerk se verantwoordelikheid is om die verbonds-onderrig te laat gebeur, en dan wel op so ‘n manier dat dit by die gesin se program inpas nie? Hoeveel ouers kla nie as die katkisasieles “te lank” aanhou nie?

Die ouers het die opdrag van die Here in Sy Woord ontvang, en hulle moet dus sorg dat hulle kinders die Here leer ken, sodat hulle in ‘n persoonlike verhouding met Hom kan staan. Daarom is gereelde huisgodsdiens so onontbeerlik. Hoeveel van ons gesinne doen werklik nog moeite met daaglikse huisgodsiens? Of raak ons “te besig” met werk en die kinders se na-skoolse aktiwiteite om nog daagliks as gesin om die Here se woord rustig te raak?

Die ouers het dus duidelik die primêre verantwoordelikheid rondom die opvoeding van hul kinders. Die woorde in die doopbelofte “en te laat onderrig” wys egter dat daar ook ander rolspelers by die opvoeding van ons kinders betrokke is.

Kerk

Die kerk het ook ‘n verantwoordelikheid rondom die verbondsonderrig van die kinders in die gemeente. Art 21 van die Gereformeerde Kerkorde bepaal dat die “kerkrade moet toesien dat die ouers die skoolonderrig aan hulle kinders in die vrees van die Here laat geskied”. Dit pas in by die taak van die ampsdraers om die lidmate vir hul dienswerk toe te rus (Ef 4:12). Die gelowige se roeping en dienswerk as  profeet, koning en priester omvat sy hele lewe – die gesin, skool, werk en ontspanning. Die kerkraad het dus ‘n verantwoordelikheid om by die ouers navraag te doen oor hoe dit in die skole gaan, en om seker te maak dat die ouers, ook in die skoolopleiding van die kinders, by die kinders die regte wêreldbeskouing kweek.

Wat word bedoel as gesê word dat die kerkraad moet toesien dat die ouers die skoolonderrig in die “vrees van die Here” laat geskied? Vir die antwoord op hierdie vraag moet ons na Spreuke blaai. Heel aan die begin van die boek (Spr 1:7) word gesê: “Die vrees van die HERE is die beginsel van die kennis” en ook later (Spr 16:6) “deur die vrees van die Here wyk ‘n mens af van die kwaad”. Deur die krag van die Heilige Gees kom só ‘n gesindheid na vore deur daagliks in navolging van God te lewe.

In ons kerke is die gewoonte dat die kerkraad toesig hou oor die katkisasie. Dit is deel van die toesighouding oor die ouers se nakoming van hul doopbelofte, maar ook omdat die predikant en ouderlinge die opdrag het om ook tydens die katkisasie deur lering (positief vertel wat reg is), weerlegging (verduideliking waarom verkeerde leringe wel verkeerd is), waarskuwing en vermaning, die suiwer leer te beskerm en verkeerde leer te bestry. Nêrens in die Skrif kry ons egter ‘n opdrag aan die kerk primêr om die kinders te onderrig nie.

Die rol van die kerk is dus sekondêr tot dié van die ouers – die kerk moet die ouers toerus om hul verantwoordelikheid na te kom, en dan ook seker maak dat dit wel gebeur.

Skool

Die skool is die derde been in hierdie driehoek, maar díé been is ook nie die belangrikste been in die driehoek nie. Alhoewel ons kinders ‘n groot deel van hulle dag-tot-dag lewe by die skool en aan skoolaktiwiteite bestee, is dit steeds nie die primêre been in die opvoeding van ons kinders nie.

Na die skepping het die mens van God die sogenaamde kultuurmandaat ontvang, naamlik om die aarde te bewoon en te bewerk, en oor die skepping op aarde te heers (Gen 1:26-28). Om dit te kan doen, moet kinders natuurlik sekere kennis en vaardighede opdoen, waarsonder die samelewing sal verval. Die owerheid se opdrag is om die samelewing op so ‘n manier te regeer dat alles ordelik sal verloop (NGB art 36). Daarom het die owerheid ‘n opdrag om by opvoeding betrokke te wees. Daardie opdrag is egter nie om die primêre verantwoordelikheid vir die opvoeding oor te neem nie.

Die skool is ‘n verlengstuk van die huis – kinders spandeer ‘n groot deel van hul lewe by die skool. Dit is daarom van kardinale belang dat die wêreldbeskouing en Bybelse opvoeding wat by die huis aan die kinders gegee word, nie teenstrydig moet wees met wat hulle by die skool geleer word nie. Indien daar wel teenstrydigheid is, ontstaan ‘n teelaarde vir verwarring onder die kinders.

Die skool moet dus kinders voorberei om as gehoorsame kinders van God, hul roeping in die tyd en ruimte waar God hulle plaas, ten volle na te kom. As ‘n kind se roeping dus eendag sou wees om as aktuaris in Pretoria te werk, moet die skool die nodige akademiese opvoeding gegee het sodat die kind hom- of haarself kan bekwaam vir hierdie roeping.

Aangesien die skool dus nie die primêre verantwoordelikheid dra vir die opvoeding nie, maar wel die ouers, is die ouers verplig om seker te maak dat wat by die skool geleer word, in ooreenstemming is met wat by die huis en die kerk geleer word.

Samevatting

Dit is dus duidelik dat in hierdie driehoek van sfere of invloede, die verantwoordelikhede nie gelykop gedeel word nie. Die Here gee aan die ouers primêre verantwoordelikheid, maar in Sy alwyse genade gee Hy ook hulpmiddels aan die ouers, naamlik die kerk en die skool, omdat Hy rekening hou met ons swakhede. Ons moet seker maak dat ons nie hierdie hulpmiddele wat die Here gee verhef en daardeur ons eie verantwoordelikheid afskuif op ander wat dit nie behoort te dra nie.

Dv in ons volgende artikel wil ons begin aandag gee aan gereelde vrae rondom gereformeerde onderwys.