Gereformeerde Onderwys – Hoekom? (2)

Opsomming:

Wêreldbeskouing is onlosmaaklik deel van ons – die bril waardeur ons na alle fasette van die lewe rondom ons kyk. Alhoewel daar geargumenteer word dat baie verskillende wêreldbeskouings bestaan, is daar in wese slegs twee: ‘n Christelike wêreldbeskouing en ‘n nie-Christelike wêreldbeskouing. As die Bybel as onfeilbare Woord van God nie die middelpunt is van ‘n wêreldbeskouing  soos wat God vereis nie, dan is daardie wêreldbeskouing per definisie nie-Christelik. In praktyk beteken dit dan dat ons hele lewe – ons lewensuitkyk, ons denke en ons dade, op God en Sy Woord gebou moet wees, en ‘n mooi voorbeeld hiervan word in Daniël se lewe vir ons gegee. Die Christelike wêreldbeskouing moet van jongs af vir ons kinders geleer en by hulle ingeskerp word, soos ons belowe tydens die doopbelofte. Dit is een van die redes waarom gereformeerde onderwys so belangrik is.

Wat is ‘n wêreldbeskouing?

In ons vorige artikel het ons gesien dat ons Gereformeerde leer onlosmaaklik deel is van ons daaglikse lewe. Daardie leer syfer daarom deur na ons onderwys toe. Dit vorm ok die basis vir die kind se wêreldbeskouing. Die vraag ontstaan dan, wat is ‘n wêreldbeskouing, en is dit enigsins belangrik?

Eenvoudig gestel, is ‘n wêreldbeskouing die manier waarop ‘n mens die lewe en die wêreld rondom hom sien en ervaar – die sogenaamde bril en perspektief waarna ons na die lewe kyk. Dit is‘n stel basiese beginsels waarop die manier hoe die persoon die lewe sien en ervaar gebaseer is. Dit is ‘n raamwerk wat die mens help om sin te maak van wat rondom hom aangaan.

Omdat jou wêreldbeskouing ‘n stel beginsels is, beïnvloed dit  hoe jy op alles reageer: van jou teologie en filosofie, tot jou wetenskap en kuns. Voorbeelde van wêreldbeskouings is bv postmodernisme, humanisme, pragmatisme en die verskillende ander gelowe.

‘n Gereformeerde wêreldbeskouing word gebou op die Woord van God, soos uiteengesit in die belydenisskrifte en die Drie Formuliere van Eenheid. ‘n Lidmaat van ‘n gereformeerde kerk behoort dus ‘n gereformeerde wêreldbeskouing te hê.

Verskillende wêreldbeskouings?

As ons sê dat ‘n wêreldbeskouing die manier is waarop ons die lewe sien en ervaar, besef mens dadelik dat verskillende mense verskillende  wêreldbeskouings het – ons ervaar dit ook daagliks. Mens kan bloot na die kommentaar op sosiale media kyk om dit te ervaar: vir enige standpunt wat gestel word (en soms vir bloot onskuldige opmerkings) sal heftige argumente vír of téén daardie standpunt gelewer word, en daardie argumente sal telkens uit bepaalde wêreldbeskouings voortvloei.

As ons egter na die Bybel kyk, sien ons daar is net twee maniere om na die lewe te kyk: ons sien dit óf soos God dit sien, óf soos die Satan dit sien. Die vader van die leuen wil ons wys maak dat daar verskillende maniere is om die lewe te sien, en dat almal ewe geldig is. Die Bybel leer ons egter anders – ons lees bv. die volgende woorde in 2 Tim 3:14-17: “Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.” (AFR83). Die Bybel, as onfeilbare woord van God, is die enigste manier hoe ons ‘n regte lewenswyse kweek, en hoe ons voorbereid sal wees vir elke goeie werk.

Daarom, as iemand nie ‘n Christelike wêreldbeskouing huldig nie, handhaaf hy noodwendig ‘n nie-Christelike wêreldbeskouing. Dieselfde geld vir ons skole – as die vakinhoud nie vanuit ‘n Christelike wêreldbeskouing opgestel is nie, is dit uit ‘n nie-Christelike beskouing opgestel. Die vraag is dan: mag ouers hulle verbondskinders aan so ‘n  nie-Christelike wêreldbeskouing  blootstel?

Wêreldbeskouing in praktyk

Hoe lyk ‘n wêreldbeskouing in praktyk? As ‘n persoon ‘n postmodernistiese wêreldbeskouing handhaaf, is hy van mening dat daar geen absolute waarheid is nie, aangesien elke mens die realiteit anders ervaar. Wat ek dus as waar sien, verskil van wat jy as waar sien, maar nie een van ons is verkeerd nie. ‘n Humanistiese wêreldbeskouing plaas die mens in die middelpunt, en beweeg weg van enige godsbegrip, maar maak eerder staat op die mense se vermoë en wetenskap om sin te maak van die lewe en hoe alles ontstaan het.

‘n Christelike wêreldbeskouing plaas God en sy woord, daarteenoor, in die middelpunt. Ons lees in Ps 119:105 “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.” (AFR33/53) en in Kol 2:8 “Pasop dat niemand julle meevoer deur ‘n filosofie en leë bedrieëry, wat gegrond is op menslike tradisie en teorieë oor die kosmiese elemente, en nie op Christus nie.” (AFR2020).

God en sy Woord word in die middelpunt gestel – dit is die beginsel waarop die Christelike lewe gebou moet wees. Ons sien hoe ‘n Christelike wêreldbeskouing prakties uitgeleef word baie mooi vir ons geskets in die lewe van Daniël.

In Daniël 1 lees ons dat Daniel een van die Joodse jongmanne uit ‘n vername familie was, van die eerstes wat in ballingskap weggevoer is, en dat hy, soos die ander jongmanne, mooi, toegerus met kennis, verstandig en bekwaam was. Ons kan ons indink dat Daniël bloedjonk was toe hy meer as 800km weggevoer is na ‘n vreemde land – hy het vir meer as 60 jaar daarna diens gedoen in die koninklike paleise, en ook dat hy waarskynlik baie bang en verward was. Hy het waarskynlik geleef toe die profeet Jeremia die volk gewaarsku het, en het dus geweet dat die Here sy oordeel voltrek. Wanneer hy as jongman in Babilon aankom, word hy gekonfronteer met ‘n koning wat hom en sy landgenote probeer verander op drie ingrypende maniere:

  • Hulle denke word verander deur hulle ‘n Galdese opvoeding te gee;
  • Hul lojaliteit word verander deur vir hulle nuwe name (wat verband hou met die plaaslike afgode) te gee; en
  • Hul lewenstyl word verander deur vir hulle ‘n nuwe dieet te gee.

Daniël en sy vriende het egter gebly by wat hulle geleer het en wat hulle vas glo (sien die verwysing na 2 Tim 3 hierbo) ten opsigte van selfs iets wat vir ons so onbenullig kan lyk soos die kos wat hulle eet. Hulle het egter die voorskrifte van die Here in Levitikus 11 in die middelpunt gestel, en daardie fondament gebruik as die bril waardeur hulle besluit wat hulle sal eet en wat hulle nie sal eet nie.

Ons lees dan verder bv. in Daniël 6 hoe hy jare later weer eens voor ‘n keuse gestel word, toe Koning Darius bevel gegee het dat niemand vir ‘n periode van 30 dae tot enige ander persoon of God mag bid, as tot hom, Darius, nie. Waarskynlik gedagtig aan die Here se opdrag in Deut 6:4: “Luister Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here” (AFR83) en in Eks 20:4-5 “Jy mag nie vir jou ‘n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My.” (AFR83), vorm die Here en sy Woord weer die beginsel waarop Daniël se optrede berus.

Ons kan weet dat Daniël se wêreldbeskouing gevestig is as kind, voordat hy in ballingskap weggevoer is – en dit wys hoe belangrik die regte fondasie vir ons kinders vandag is. Deur die Here se genade kon Daniël, en geslagte mense daarna, voortbou op die fondasie wat in hulle jeug gevestig is. Ons belowe tydens die doop van ons kinders om vir hulle hierdie selfde fondasie en wêreldbeskouing te leer, en na ons vermoë te laat leer.

Wêreldbeskouing en skole

Dit is daarom so belangrik dat verbondskinders van jongs af die korrekte wêreldbeskouing geleer word. Soos hierbo aangedui bepaal ons lewensbeskouing hoe ons die fisiese wetenskappe, geskiedenis, lewens wetenskappe, sosiale wetenskappe en selfs kuns benader. As ons glo dat die Bybel die onfeilbare Woord van God is, dan bepaal die Bybel hoe ons oor al hierdie vakrigtings dink. Dan moet heelwat van die onderliggende filosofie waarmee meeste skoolvakke vandag aangebied word, afgewys word. Ons beplan om in toekomstige artikels meer aandag te gee aan hoe ‘n gereformeerde wêreldbeskouing na vore kom in die verskillende vakke.

Die vraag ontstaan: as daar dan ‘n gereformeerde skool is waar die vakinhoud gebou is op die Woord van God, kom ons as ouers ons doopbelofte na as ons nie ons kinders in hierdie skool plaas nie, maar eerder in ‘n skool waar die vakinhoud op nie-Christelike beginsels gebou is? Dit is ‘n vraag wat elke ouerpaar vir hulleself voor die Here moet uitmaak. Dit is ook ‘n vraag waaraan Kerkrade kan aandag gee – KO Art 21 sê juis “Die kerkrade moet toesien dat die ouers die skoolonderrig aan hulle kinders in die vrees van die Here laat geskied”.

Dv in ons volgende artikel beoog ons om dan aandag te gee aan die verhouding tussen die gesin, die skool, en die kerk, en hoe hierdie elemente saam ‘n driehoek vorm in die opvoeding van die verbondskinders.