Back

Gereformeerde Onderwys – Hoekom? (1)

Christelike waardes vs gereformeerde skool
Daar is vandag baie keuses vir ouers wat betref hulle kinders se skoolopleiding. Die dae dat die kind na die naaste skool toe gaan is lankal verby. Baie skole adverteer ook vandag dat hulle “na Christelike waardes streef” of “op Christelike waardes gebou is”. Daar is egter ander skole wat duidelik sê dat hulle gereformeerde skole is. Die vraag is dan of daar ‘n verskil is, en, indien wel, of die verskil belangrik is.

Doopbelofte
Wanneer ‘n ouerpaar hulle verbondskindjie laat doop, belowe hulle, en neem hulle hulle voor om daardie kind wanneer die kind dit kan verstaan in “die genoemde leer na (hulle) vermoë te onderrig en te laat onderrig”. Hierdie belofte teenoor die Here word voor die gemeente afgelê. Die belofte is ook op die Skrif gegrond – in Deut 6:6-7 beveel die Here: “Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.” Die opdrag is duidelik – ons moet die leer nie net aan ons kinders oordra op Sondag, of by katkisasie of huisgodsdiens nie, dit moet gebeur in alles wat ons doen, want die Here is betrokke by alle aspekte van ons lewe.

Wat is hierdie leer wat ouers dan belowe om hulle kinders in op te voed? Die tweede vraag tydens die doop, is soos volg: “Bely u dat die leer van die Ou en Nuwe Testament, wat in die Artikels van die Christelike geloof saamgevat is en in die Christelike kerk hier geleer word, die ware en volkome leer van die saligheid is?” As ons dan belowe om ons kinders in die Christelike leer te onderrig en te laat onderrig, belowe ons om dit te doen ooreenkomstig die Bybel, soos saamgevat en verduidelik in die Belydenisskrifte.

Leer en lewe
Uit die Skrif is dit ook duidelik dat leer en lewe onlosmaaklik deel is van mekaar. Die gebooie van die Here help niks as dit net in ons gedagtes bly nie, ons moet dit leef en nakom – sien bv Deut 6:3. So ook, kom dit duidelik na vore in die Nuwe Testament. Titus 2 & 3 wys baie mooi hoe die gesonde leer in dade omgesit moet word.

In 1 Tim 3:16-17 sê die Here vir ons “Die hele skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk”. Die leer in die Skrif berei ons voor vir ons goeie werke – werke uit ‘n ware geloof, volgens die wet van God, wat tot Sy eer gedoen word (HK V&A91). Soos ons in Jakobus 2:14-26 leer, ons geloof kom na vore in ons dade.

Ons lewe, bestaande uit die dade vanuit ons geloof, begin egter nie eers die dag as ons volwasse word, of as ons belydenis van geloof afgelê het nie. Ook kinders moet ooreenkomstig die Here se wet lewe, dink bv aan die vyfde gebod, en die opdrag in Ef 6:1-3. As ons dus ons kinders in die geloof moet opvoed, sluit dit in dat ons hulle moet leer hoe die Here betrokke is in elke deeltjie van ons lewe, soos mooi geïllustreer word in Ps 139 en in die boek Jona. Hulle moet leer dat ons nie net die Here dien op ‘n Sondag of dat Hy geen deel het aan bv geskiedenis nie. Die Here hou die geskiedenis in Sy hand, ook die geskiedenis van volke (sien bv Dan 2).

Gereformeerde leer raak alle vlakke van ons lewe
Daarom is gereformeerde onderwys dan ook belangrik. Gereformeerde onderwys het ten doel om die Here se rol in alle vakrigtings aan te dui, want die Here is Here van ons hele lewe. Of die kind op skool dus besig is met tale, wiskunde, geskiedenis of tegnologie, die betrokkenheid van die Here op elkeen van hierdie terreinde moet aangedui word. By gebreke daarvan word die volle leer van die Ou en Nuwe Testament, soos saamgevat in die Belydenisskrifte, nie aan die kind geleer nie. Dan word die idee verskerp van ‘n skeiding tussen die “geestelike lewe, die kerk” en die algemene lewe van elke dag – ‘n onderskeid wat ons nie in die Skrif kry nie.

Dit behoort daarom duidelik te wees dat dit nie bloot genoeg is om een maal ‘n dag ‘n stukkie (meestal net ‘n versie of twee) te lees en dan te bid nie, soos wat by baie sogenaamde Christelike skole die geval is nie. Nog minder is sogenaamde Christelike waardes op hul eie voldoende, want baie van hierdie waardes, bv eerlikheid en omgee vir ander, sien ons in die meeste gelowe. Nee, die Here se betrokkenheid in alle vakke, van die tale (want dit is Hy wat tale gegee het, sien Gen 11), deur sosiale wetenskappe (want die Here gee verskillende volke en nasies, Ps 2, en Hy het die heelal geskep, sien Ps 8) tot die bestuurwetenskappe (want die Here het ‘n sê oor hoe ons besigheid doen, sien bv Spr 20:23 en Ef 6:5-9) moet geleer word. Ons taak is om dit vir ons kinders te leer, sodat hulle as hulle eendag volwasse is, die Here se heerskappy in al die fasette van hulle lewe kan raaksien en dienooreenkomstig kan lewe.

Gereformeerde onderwys, waar die heerskappy en betokkenheid van die Here op alle lewensterreine duidelik gemaak en uitgeleef word, is dus by uitstek die manier waarop ons kinders onderrig kan word in die leer van die Skrif.

Gereformeerde skole
Ons is bevoorreg dat daar gereformeerde skole op verskeie plekke in ons land is. Voorbeelde sluit in Gereformeerde Laerskool Bellville in Kaapstad, Gereformeerde Skool Wolmaransstad, en dan Gereformeerde Laerskool Johannes Calvyn en Gereformeerde Skool Dirk Postma (wat ‘n kleuter-, laer- en hoërskool bevat), beide in Pretoria. Hierdie, en ander soortgelyke skole, kan gerus ondersteun word. Is daar ‘n beter manier vir ‘n ouerpaar om hulle doopbelofte uit te leef, as daar ‘n gereformeerde skool binne bereik is waar hulle kinders opgevoed kan word?

Dv in ’n volgende artikel beoog ons om aandag te gee aan ‘n verdere belangrike aspek van gereformeerde onderwys, naamlik die kweek van ‘n Christelike wêreldbeskouing, waar God die middelpunt vorm, en sy Hand in alles raakgesien kan word.