Back

Akademie: Kurrikulums, leerinhoude e.a.

Die leerinhoude word deur die personeel van GLB opgestel, gegrond op die kurrikulums en leeruitkomste soos deur die WKOD vasgestel. Hierdeur word dit moontlik om hoë akademiese standaarde te handhaaf en terselfdetyd ook die inskakeling op hoërskool glad te laat verloop. Die drie hoof-hoërskole waarheen GLB-leerders gaan, is Bellville-, Stellenberg- en Brackenfell Hoërskool. Ook by D.F. Malan en Durbanville Hoërskole het oud-GLB’ers verder geleer. Leerders vaar uitstekend op hoërskool en jaarliks is daar oud-GLB’ers op die merietelyste of in die nuus vanweë sportprestasies of ander akademiese- of kulturele bedrywighede.

Boeke
Alle handboeke, modules en werksvelle wat die leerders benodig, word deur die skool verskaf. In sommige gevalle word van leerders verwag om ’n boek aan te skaf (bv. "Leer en luister" – die "groen boek" wat vir gr. R-leerders verpligtend is of ’n tweetalige woordeboek wat vanaf gr. 6 verplig word). Vanaf 2013 sal alle graad 4-7 leerders ook die huiswerkboekie van die skool moet aanskaf.

Vanaf 2014 word daar van die ouers gevra om die leerders se skryfboeke aan te skaf. Hierdie skryfboeke moet saam met skryfbehoeftes op die eerste skooldag reeds by die skool wees. Enige (skryf)boeke deur leerders verlê of verniel, sal deur die leerder (ouers) vervang moet word.

Skryfbehoeftes
Leerders ontvang jaarliks ’n lysie met die verpligte skryfbehoeftes en skryfboeke wat aangeskaf moet word. Hierdie skryfbehoeftes kan by enige winkel aangeskaf word. Die skool bied egter ook die dienste van Waltons aan as skryfbehoefte-verskaffer. Ouers kan ’n bestelling deur die skool plaas, sodra die bestelling deur ouers betaal is, sal ouers ’n e-pos ontvang dat dit by die skool afgehaal kan word. Betaling geskied aan Waltons (en nie aan die skool nie), dit kan deur elektroniese oorbetaling of kontant gedoen word. Die skool ontvang ’n klein persentasie as kontant bedrag van hierdie bestelling as donasie van Waltons.

Vanaf September 2013, het Spectra Upfront ook vir ons ’n terug-skool-toe diens begin aanbied. Dit werk op amper op dieselfde basis as Waltons. U stuur u bestelling skool toe en u kan by afhaal u kontant of tjek by die skool inhandig. Hierdie dienste is vryblywend.

Akademie
Alhoewel ons nie prestasie as enigste maatstaf vir suksesvolle onderrig aanhou nie, is hoë akademiese standaarde ononderhandelbaar. Die skool het unieke uitdagings deurdat daar dubbelklasse is, waar een onderwyser(es) twee grade in dieselfde klaskamer onderrig. Dit bied besondere uitdagings aan die personeel en leerders. Die winste is egter beduidend: leerders leer om te konsentreer op eie opdragte, selfstandig te werk en ook vir hulself te dink.

GLB staan deurlopende evaluasie as evalueringsmetode voor. In die intermediêre fase word daar egter ook van formele toetse en eksamens gebruik gemaak. Gr. 4 en 5 skryf aan die einde van die tweede en vierde kwartale amptelike toetsreekse. In hierdie kwartale skryf die gr. 6 en 7’s eksamen. Gedurende die eerste en derde kwartaal word daar gebruik gemaak van kleiner klastoetse verprei oor die kwartaal.

GLB het nie ’n jaarlikse prysuitdeling nie. Sertifikate van verdienste word aan die einde van die jaar saam met ander sertifikate (bv. dié wat leerders ontvang van die Eisteddfod-deelname of UNISA-eksamen) uitgedeel. Hierdie sertifikate word op diskresie van personeel toegeken en beklemtoon positiewe gedrag en vordering op akademiese vlak.