Back

Boodskap van die Skoolhoof

“It feels like a home to the children”

Die onderwysdepartement kom kuier so nou en dan by die skool. Hierdie besoeke is meer welwillendheidsbesoeke as enigiets anders, maar soms gebeur dit dat interessante gesprekke ontwikkel en ’n mens geleentheid kry om ook jou beeld as Christen en Christenskool aan hulle uit te straal. So het dit byvoorbeeld ’n paar jaar terug gebeur dat een van hierdie beamptes na ’n skoolbesoek vir my gesê het: "It feels like a home to the children". Waarop ek geantwoord het: "It IS a home to the children!". Dit was vir my die grootste kompliment as skoolhoof en onderwyser.

Waarom is dit so? Waarom was dit vir hierdie onbekende besoeker so opvallend? Waarom is die skool soos ’n huis vir die kinders? Is dit omdat ons as skoolgemeenskap mekaar so goed ken en behalwe Sondae se kerkbywoning ook op Saterdae saam rugby kyk en ons kinders saam sport doen? Nee daar is tog veel meer.

Gereformeerde skool wees in die naam van Jesus Christus
In die gereformeerde laer onderwys is daar al geruime tyd ’n besinningsproses gaande rondom die vraag: "Wat is nou eintlik die identifiserende eienskappe van die gereformeerde laerskool?". Vir dekades is hierdie eienskappe verwoord vanuit die begrippe verbond, doop en kerk. Hierdie bly natuurlik belangrike onderdele van die gereformeerde onderwysbeginsel. Gereformeerde onderwys is immers verbondsonderwys. Maar is dit al?

By die nadink oor die identiteit van ons skool is dit belangrik dat ons ’n onderskeid tref tussen die konstitisionele identiteit en die geestelike identiteit van die skool. Die konstitusionele identiteit het te make met die redes waarom ons onderwys anders is as die van byvoorbeeld staatskole of ander Christelike skole. Ons belydenisgeskrifte speel hier ’n belangrike rol. Die geestelike identiteit is die identiteit waardeur die alledaagse dinge by die skool gekenmerk word: die atmosfeer by die skool, die manier waarop ons met mekaar omgaan as personeel, ouers en kinders. Die saam verbonde wees as verloste kinders van Jesus Christus. Gereformeerd wees beteken immers om Christus sentraal te plaas. Die drie bekende sola`s (sola scriptura, sola gratia en sola fide) word mos gedra en gekleur deur solus Christus: Christus alleen! Nie alleen dus verbond, doop en kerk nie, maar ook in gemeenskap lewe met Christus en in die gemeenskap alles ontvang wat God vir ons beloof het.

`n Geur van Christus
In 2 Kor. 2:14–15 lees ons hoe Paulus skryf: "Maar God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van sy kennis deur ons oral versprei. Want ons is ’n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan."

Die Bybelse beeld van geur of reuk kan ons ook toepas op die gereformeerde skool. Dit fokus direk op die atmosfeer by die skool. Die gereformeerde identiteit sit nie in die eerste plek in die inhoude wat onderrig word nie. Net so min in die norme en reëls van die skool, wat baie maklik tot ’n tipe moralisme kan lei. Ook nie in die regte toepassing van die toelatingsbeleid nie. Dit gaan oor soveel meer. ’n Skool waar die geur van Christus heers, bruis van die lewe saam met Christus. Daar heers blydskap omdat die onderwysers en leerlinge anders is. Daar word die liefde en genade van Christus weerspieël in die omgang met mekaar. Daar is onderwysers lief vir die kinders, omdat Christus vir hulle lief is. So gaan ons ook met mekaar om as daar iets gebeur wat ongewens of onvanpas is. Op ’n gereformeerde skool is die onderwysers en leerlinge nie in die eerste plek sondaars nie, maar deur God geliefde kinders wat in Christus ons liefde werd is. Hierdie liefde is een van die vrugte van die Gees en ’n geskenk van Jesus self. So mag ons in alles met mekaar omgaan. So ’n skool word ook gekenmerk deur die belangrikheid van lofprysing en aanbidding. Ons loof God vir alles wat Hy elke dag vir ons gee. Ons erken sy magtige hand in die alledaagse gebeure by die skool en ons bely ons eie swakheid voor Hom. Ons vind ons troos en vertroue by ons Hemelse Vader. Want in hierdie groot verantwoordelikheid wil en kan ons nie op ons eie kragte staat maak nie. So bly onderwysers, leerlinge en ouers gefokus op Christus en ontvang Hy ons lof en eer as ’n welgevallige offer – ’n geurende wierookoffer. ’n Skool waar die geur van Christus heers word onderwysers en leerlinge gelei om Hom steeds beter te ken. Daar leer kinderes nie net die name en feite uit die Bybel nie, maar om `n persoonlike verhouding met God te hê - `n intieme, persoonlike verhouding met Jesus Christus, hul Verlosser en Heer. Dan begin ons steeds meer soos Christus lyk en staan die vrugte van die Gees van Gal. 5:22 sentraal: liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, trou, sagmoedigheid en selfbeheersing.

Laat ons as skoolgemeenskap saam bid en saam werk, sodat ook hier waar ons besig is, die geur van ons skool een sal wees wat vir God welgevallig is.

Erik van der Linden