Beleide

Grondwet



NAAM EN STIGTING
Art. 1
Die naam van die vereniging is: Vereniging vir Gereformeerde Skoolonderwys te Kaapstad. Die Vereniging is opgerig op 13 Junie 1955.

GRONDSLAG
Art. 2
Die grondslag van die Vereniging is die Bybel as die onfeilbare Woord van God, en die Drie Formuliere van Eenheid, wat die Woord van God naspreek.

DOEL
Art. 3
Die doel van die Vereniging is om gereformeerde onderwys aan te bied, op die grondslag wat in Art. 2 genoem is, en om vir dié doel skole te stig en in stand te hou.

LEDE
Art. 4
  1. Lidmaatskap van die Vereniging staan oop vir almal wat instem met die grondslag en doel van die Vereniging en lidmate is van die Vrye Gereformeerde Kerk.
  2. Lede is verplig om die minimum lidmaatskapsfooi, soos vasgestel deur die bestuur, te betaal. Die bestuur kan, op versoek, op meriete hiervan ontheffing verleen.
  3. Die aanmelding van lede geskied skriftelik by die sekretaris. Die bestuur beslis oor die toelating en stel die aansoeker skriftelik daarvan in kennis.
  4. Beëindiging van lidmaatskap geskied deur:
    1. skriftelike opsegging daarvan deur die lid;
    2. afsterwe van die lid;
    3. gemotiveerde skriftelike opsegging van die lidmaatskap deur die bestuur, waarby aangetoon moet word dat die lid nie meer voldoen aan die vereistes soos vermeld in Art. 4(a) en Art. 4(b) nie, of waar sy gedrag in stryd is met die grondslag soos omskryf in Art. 2.
  5. ’n Lid of aspirant-lid het die reg om hom te beroep op die ledevergadering by ontsegging of afwysing van lidmaatskap.

BEGUNSTIGERS
Art. 5
Begunstigers is persone, wat sonder om lid te wees, die Vereniging gereeld finansiëel steun. Die begunstigers kan die ledevergaderings bywoon, maar het geen stemreg nie.

LEDEVERGADERING
Art. 6
Die ledevergadering het die hoogste gesag in die Vereniging, waar by stemming oor enige van die belange van die vereniging beslis word, tensy anders in hierdie grondwet bepaal word.

Art. 7
Elke jaar binne vier maande na die begin van die finansiële jaar, sal die jaarlikse algemene ledevergadering gehou word, waar:
  1. die bestuur verslag sal doen van sy finansiële beheer en werksaamhede;
  2. verkiesing van bestuurslede en kommissies sal plaasvind;
  3. voorstelle van die bestuur en lede behandel sal word.

BESTUUR
Art. 8
Die bestuur bestaan uit ten minste vyf lede of ’n groter onewe getal wat deur die ledevergadering bepaal mag word.

STIGTING EN INSTANDHOUDING VAN SKOLE
Art. 9
  1. Die bestuur verteenwoordig die Vereniging regtens.
  2. Die bestuur het die verantwoordelikheid vir die kwaliteit en omvang van die onderwys, ooreenkomstig die Onderwysordonansie van die betrokke Onderwysdepartement, waarby spesiaal gewaak sal word dat die grondslag en doel van die vereniging gehandhaaf bly.
  3. Die bestuur stel die Diensvoorwaardes van die personeel vas.
  4. Die bestuur is verantwoordelik vir die beheer en instandhouding van die eiendomme van die Vereniging.

Art. 10
Die bestuur benoem en ontslaan die leerkragte in diens van die Vereniging.

Art. 11
Leerkragte moet aan die volgende vereistes voldoen:
  1. Gereformeerde gedrag en lewenstyl handhaaf
  2. Belydende en aktiewe lid wees van ’n gemeente wat die Bybel as die ware Woord van God en die Gereformeerde leer soos vervat in die Drie Formuliere van Eenheid bely.
  3. Geskoold in Christelike pedagogiek, kerkgeskiedenis, Bybelse lesgee, Bybelkennis en verbondsonderrig. Indien hulle nie sodanige opleiding het nie, moet ’n kursus, soos bepaal deur die bestuur, binne ’n tydperk, soos bepaal deur die bestuur, voltooi word.
  4. Professionele bevoegdheid dra.

Leerkragte is verplig om die grondslag en doel van die Vereniging, soos verwoord in Art. 2 en Art. 3 van hierdie Grondwet, asook die Diensvoorwaardes te onderteken.

WYSIGING VAN DIE GRONDWET
Art. 12
  1. Gemotiveerde voorstelle vir wysiging van die Grondwet moet deur die bestuur of ten minste tien lede ingedien word.
  2. Moontlike voorstelle vir wysiging van die Grondwet kan aangeneem word op ’n buitengewone vergadering, waar ten minste 75% van die lede aanwesig en minstens 75% van die aanwesige lede ten gunste van die voorstel is. Indien die vereiste aantal lede nie op die vergadering aanwesig is nie, kan ’n tweede vergadering belê word, waar die voorstel deur 75% van die aanwesige lede aangeneem kan word.

ONTBINDING VAN DIE VERENIGING
Art. 13
Die vereniging kan slegs ontbind word op ’n vergadering waar ten minste 75% van die lede aanwesig is en 75% van die aanwesige lede ten gunste van die ontbinding stem. Indien die vereiste aantal lede nie op die vergadering aanwesig is nie, sal ’n tweede vergadering belê word, waar die besluit tot ontbinding deur ten minste 75% van die aanwesige lede geneem kan word.

Art. 14
  1. In die geval van ontbinding word die likwidasie waargeneem deur die bestaande bestuur of deur ’n kommissie van ten minste drie lede, wat deur die ledevergadering benoem word.
  2. Die likwidasieverslag word geouditeer deur die bestaande ouditeure of deur ’n komitee, wat deur die ledevergadering benoem word.
  3. Indien die vereniging ontbind word, sal die besittings oorgedra word aan Die Vrye Gereformeerde Kerk te Kaapstad, tensy die besittings met algemene stemme vir ’n ander doel aangewend sal word.

ALGEMEEN
Art. 15
Hierdie grondwet tree in werking op 23 Junie 1995, na ontbinding op grond van die oorspronklike Grondwet en heroprigting
VERENIGING VIR GEREFORMEERDE SKOOLONDERWYS TE KAAPSTAD

Huishoudelike reëls



LEDEVERGADERING
Art. 1
Bo en behalwe die vaste jaarlikse ledevergadering kan die bestuur die lede vir ’n buitengewone ledevergadering saamroep. Indien 25% van die aantal lede die bestuur versoek om ’n buitengewone ledevergadering te belê, moet die bestuur binne vier weke aan so ’n versoek voldoen. Indien die bestuur in gebreke bly om so ’n vergadering te belê, het die lede self die reg om ’n buitengewone vergadering byeen te roep.

Art. 2
Uitnodigings om ledevergaderings by te woon, word twee weke voor die tyd uitgestuur en word vergesel deur ’n sakelys.

Art. 3
  1. Alle lede het stemreg. Alle besluite word geneem met volstrekte meerderheid van stemme, behalwe in die gevalle waaroor in die Grondwet anders bepaal word.
  2. Oor persone moet skriftelik gestem word. Oor sake kan mondleling gestem word, mits alle aanwesige lede daarmee saamstem.
  3. By staking van stemme oor sake word die voorstel as verwerp beskou. By staking van stemme oor persone word die oudste in jare as verkies verklaar.
  4. Egpare het slegs een stem.

BESTUUR
Art. 4
Die bestuur word deur die ledevergadering verkies. Die voorsitter word as sodanig verkies, terwyl orige bestuursfunksies onderling verdeel word.

Art. 5
  1. Die bestuurslede het vier jaar sitting, tree volgens rooster af en is vir een termyn herkiesbaar.
  2. By tussentydse verkiesings sal die gedeelte van die lopende jaar nie in die sittingsperiode ingesluit wees nie.

Art. 6
  1. By verkiesing van ’n bestuurslid word twee persone deur die bestuur aan die ledevergadering voorgestel. Lede kan persone voorstel vir ’n bestuursvakature. So ’n voorstel moet ten minste vyf weke voor die verkiesingsvergadering ingedien word. Indien gewens, kan vyf lede een week voor die verkiesingsvergadering skriftelik ’n persoon as kandidaat voorstel. So ’n voorstel moet deur ’n bereidverklaring van die kandidaat vergesel wees.
  2. Verkieslik moet ten minste twee lede van die bestuur ’n ouer van skoolgaande kinders wees.

Art. 7
Om die vereniging te verbind sal die handtekeninge van twee bestuurslede, waarvan een die voorsitter is, ’n vereiste wees. Vir kwitansies en ontvangs van gelde is die handtekening van die penningmeester Voldoende. Die bestuur kan aan een of meer lede van die bestuur magtiging gee om aangewese stukke namens die vereniging te teken. Die bestuur is geregtig om so ’n magtiging op enige tyd in te trek.

Art. 8
Die dagbestuur word gevorm deur die voorsitter, sekretaris en penningmeester. Hulle tree op in spoedeisende gevalle en doen verantwoording aan die ander lede van die bestuur.

Art. 9
Die bestuur vergader ten minste ses keer per jaar.

Art. 10
Die voorsitter roep die vergaderings saam, met medewerking van die sekretaris. Hy lei die vergaderings en spreek namens die bestuur en die Vereniging.

Art. 11
Die sekretaris is verplig om die handelinge van elke vergadering te notuleer, die korrespondensie af te handel en afskrifte daarvan te liasseer, die uitgaande stukke te teken, tensy anders deur die bestuur bepaal word, die ingekome stukke vir behandeling by die bestuur in te dien. Hy is ook verantwoordelik vir die instandhouding van ’n behoorlike argief.

Art. 12
Die penningmeester beheer die inkomste en uitgawes van die vereniging soos bepaal deur die bestuur of die ledevergadering. Hy is verantwoordelik vir die boekhouding en dra die sorg van ’n behoorlike finansiële argief.

Art. 13
Die algemene adjunk kan optree as plaasvervanger namens die ander bestuurslede, aan wie enige opdrag gegee kan word wat deur die bestuur goedgekeur is.

Art. 14
Met die toestemming van die ledevergadering mag die bestuur betaalde persone in diens neem om hom in die bestuursarbeid by te staan.

Art. 15
Indien ’n bestuurslid as betaalde leerkrag benoem word, kan hy nie meer in die bestuur dien nie.

Art. 16
Die bestuur of enige aangewese persone sal die skool (skole) minstens drie keer per jaar besoek en van sy bevindinge verslag doen op die bestuursvergadering.

INKOMSTE EN FINANSIES
Art. 17
  1. Die vereniging verkry sy inkomste uit ledegelde, skoolgelde, skenkings, subsidies. kollektes, erflatings en ander verantwoorde bronne.
  2. Die ledevergaderlng bekragtig, op aanbeveling van die bestuur, die ledegeld en skoolgeld.
  3. Indien ten laste van die vereniging oorgegaan moet word tot geldlenings, die verkry, beswaar of verkoop van onroerende eiendomme, of tot die aangaan van ’n akte van ooreenkoms, benodig die bestuur die magtiging vooraf van die ledevergadering.

Art. 18
  1. Die boekjaar van die vereniging strek van 1 April tot 31 Maart.
  2. Na die einde van elke boekjaar word ’n balansstaat en ’n inkomste en uitgawe rekening opgestel, wat ter goedkeuring en bekragtiging aan die algemene ledevergadering voorgelê word.

Art. 19
  1. ’n Komitee van twee lede, wat deur die ledevergadering benoem word, ouditeer die boeke van die vereniging en doen verslag aan die algemene ledevergadering.
  2. Die bestuur stel twee kandidate voor as ouditeurs vir die daaropvolgende boekjaar. Die ledevergadering kan die twee kandidate aanvaar, of twee ouditeurs deur verkiesing benoem.
  3. Dieselfde persoon mag vir nie meer as twee opeenvolgende jare as ’n ouditeur benoem word nie.

Art. 20
Op die jaarlikse ledevergadering dien die bestuur vir die komende jaar ’n begroting in, wat die finansiële verwagtings en behoeftes vir die jaar weerspieël. Die begroting is onderhewig aan die goedkeuring van die ledevergadering. Uitgawes, salarisse uitgesluit, wat die totale begrote uitgawes met R5,000.00 oorskry, vereis goedkeuring van die ledevergadering.

Art. 21
Die besoldiging van die personeel word vasgestel deur die bestuur.

Art. 22
Die stigting van besondere fondse moet deur die ledevergadering goedgekeur word.

ALGEMEEN
Art. 23
In gevalle waarin nog die Grondwet nog die Huishoudelike Reëls voorsiening maak, beslis die bestuur. Die lede het die reg van beroep op die ledevergadering.

Art. 24
Wysiging van hierdie Huishoudelike Reëls is moontlik deur middel van ’n gemotiveerde skriftelike voorstel van die bestuur of lede op ’n ledevergadering, wat tot so ’n wysiging by meerderheid van stemme kan besluit.

Art. 25
Hierdie Huishoudelike Reëls tree in werking op 23 Junie 1995.

Toelatingsbeleid van die Gereformeerde Laerskool Bellville

VASGESTEL OP 2 AUGUSTUS 2005

Die Vereniging vir Gereformeerde Skoolonderwys (VGS) stel die volgende beleid vas vir die toelating van kinders tot die Gereformeerde Laerskool Bellville (GLB). Hierdie beleid word voorgehou aan ouers van binne en buite die Vrye Gereformeerde Kerke (VGK) in ’n aansoekvorm en ‘n gesprek tussen ouers en bestuurslede van die VGS.
  1. Grondbeginsels
    1. Belydenis: Die VGS bely die Bybel as die onfeilbare en onveranderlike Woord van God en die Drie Formuliere van Eenheid, tw. die Nederlandse Geloofsbelydenis, Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls. Van enige ouerpaar wat hulle kind(ers) wil inskryf word dieselfde belydenis in leer en lewe verwag.
    2. Doopbelofte: Die VGS neem aan dat ouers die doopbelofte afgelê het toe hulle hul kinders laat doop het. Ouers sien dit as uitvoering van hul doopbelofte wanneer hul kind(ers) gereformeerde onderwys aan die GLB ontvang.
  2. Leer en lewe
    Omdat ouers die bogenoemde bely in leer en lewe, het dit sekere praktiese gevolge. Let wel dat ouers wat lidmaat is van die VGK onder opsig en tug van die kerkraad staan en dat die VGS bestuur daarom sekere aannames omtrent hul leer en lewe kan maak. Dit geld nie vir ouers wat nie lidmaat is van die VGK en daarom moet die bestuur met omsigtigheid probeer ondersoek instel na die leer en lewe van sulke ouers. In elke geval geld wel die volgende sake:
    1. Kerk: Voornemende ouers moet belydende lidmate wees van een van die gereformeerde kerke in Suid Afrika. Ouers moet trou die eredienste bywoon en aktiewe lidmate wees van hulle gemeentes. Ouers moet as verwysing die naam en kontak besonderhede van hul predikant en ouderling gee. Verder is dit belangrik dat ouers ’n Gereformeerde siening het soos voorspruit uit die Tien Gebooie (en bely deur die VGK) omtrent sake soos kindernagmaal, die vrou in die amp, skepping en evolusie, homoseksualiteit, aborsie, saamwoon en egskeiding.
    2. Werk: In die besluit van die VGS speel die werksomstandighede van ouers ’n rol. Hieronder is dit belangrik om vas te stel watter werk die vader doen, of dit sondagswerk (uit keuse of verplig) insluit. Verder moet vasgestel word of die moeder werk en watter werk sy doen indien wel.
    3. Gesinsituasie: Die bestuur let op wat die gesinsituasie is van voornemende ouers. Hoeveel kinders is daar in die gesin, na watter skole gaan die ander kinders in die gesin (waarom indien wel). Dit is ook belangrik dat daar by die opvoeding van die kind(ers) eenheid, en nie teenstrydigheid sal wees, tussen wat die kinders by die huis, in die kerk en op skool leer. Laastens is dit baie belangrik of die ouers geskei is.
  3. Praktiese sake
    1. Skoolgelde: Voornemende ouers neem voor om skoolgelde vooruit en ten volle te betaal. Indien skoolgelde meer as drie maande agterstallig is kan rente teen heersende koerse gehef word deur die bestuur. Indien die ouers meer as ses maande agterstallig is, behou die bestuur die reg voor om die kind(ers) van die skool af te sit.
    2. Lidmaatskap VGS: Omdat die GLB ’n ouerskool is (nie ’n kerkskool nie), beskerm die VGS die gereformeerde karakter van die skool deur lidmaatskap tot die VGS te beperk tot lidmate van die VGK. Ouers wat nie lidmaat is van die VGK nie, kan derhalwe nie lid word van die VGS nie.
    3. Status quo: Indien die status quo van die ouers, soos in die sake in punt 2 hierbo genoem, verander gedurende die periode wat die kind(ers) skoolgaan by die VGS, behou die bestuur die reg voor om hul toelating te heroorweeg.
  4. Besluitnemingsproses
    1. Aansoekvorm: Voornemende ouers vul ’n aansoekvorm in voor die einde van September. Die bestuur behou die reg voor om enige laat aansoeke sonder oorweging af te wys. Die verwysings (predikant, ouderling en vorige skole) wat die ouers opgegee het word nagegaan.
    2. Eerste keuring: Die bestuur doen, na sy diskresie, ’n eerste keuring na aanleiding van die aansoekvorm. Ouers wat nie afgewys word nie ontvang (hoofstuk 1 en 2 uit) die ARSO publikasie ‘Dit is Gereformeerde Onderwys’ (indien dit die eerste kind(ers) is).
    3. Gesprek: Daarna besoek twee of meer lede van die bestuur die ouers. Die gesprek volg die riglyne soos vasgelê. Tydens die gesprek kom die aansoekvorm ter sprake en die sake soos genoem in punte 1–3 hierbo en die gedeeltes uit boekie ‘Dit is Gereformeerde Onderwys’.
    4. Besluit: Die lede wat die ouers besoek het, gee terugvoering aan die bestuur wat dan na sy diskresie die ouers toelaat of afwys.
    5. Finale antwoord: Ouers word skriftelik in kennis gestel van die finale besluit van die bestuur.
    6. Inskrywing: Die skoolhoof gee ’n inskrywingsvorm en die algemene- en betalingsooreenkoms aan die ouers wat dit onderteken en terugstuur. Die skoolhoof bewaar ’n afskrif in die argief.
    7. Tydsduur: Die bestuur moet binne twee maande vanaf die ontvangs van die aansoekvorm ’n finale besluit neem.

Aansoeke nuwe leerlinge



Wanneer iemand wat nie lid is van die VGKSA nie, kom navrae doen oor die skool, is dit gebruiklik dat die skoolhoof eers ’n kort gesprek met die persoon/ouers het. Indien hy van oordeel is dat hierdie ouers met opregte motiewe kom navraag doen, sal ’n aansoekvorm met ’n Prospektus aan hulle oorhandig word. Die voltooide aansoekvorm gaan daarna met ’n kort verslag van die skoolhoof se gesprek na die bestuursliggaam van die VGS. Hierna sal die bestuur gesprekke hou met die belangstellende ouers en sal daar na aanleiding van die gesprekke ’n besluit tot toelating geneem word al dan nie.

In die geval van nuwe ouers wat wel lid is van die VGKSA, sal daar ’n aansoekvorm gegee word, waarna die skoolbestuur ook ’n kort gesprek met die voorgenome ouers het. Ouers sal op die bekendstellingsdag ook ’n inskrywingsvorm vir hul kind invul. Hierin is vrae oor inligting m.b.t. die kind.

Bestaande ouers sal by die inskrywing van ’n volgende kind, slegs dokumente soos hieronder genoem en met * gemerk, hoef te verskaf.

Die leerder word met naam, adres en geboortedatum in die inskrywingsboek geskryf en sy unieke inskrywingsnommer sal dan op sy blou toelatingslêer geskryf word. Die leerder sal ook ’n “cemis” nommer kry, daarvoor word kontak gemaak met die departement van onderwys in die Wes-Kaap.

Met toelating sal die ouers bo en behalwe die voltooide aansoekvorm, ook die volgende dokumentasie invul of kopieë daarvan verskaf vir die toelatingslêer van die kind:
  • Inskrywingsvorm *
  • Kontrak met VGS
  • Betalingsooreenkoms
  • Geboortesertifikaat *
  • Kliniekkaart *
  • Vorige skoolrapport of -verslag indien beskikbaar *
  • R50 administrasiefooi

Skoolreëls



ONS OPDRAG
Ons woon as kinders van God in ’n gebroke wêreld. Hierdie gebrokenheid het ontstaan by die sondeval en sal voortduur tot Christus se wederkoms. Ook die kinders van God gaan gebuk onder hierdie gebrokenheid. Ja ons glo selfs dat ons kinders in sonde ontvang en gebore word. Ons is dus niks beter as die ander mense van die wereld nie. Ons behoort netsoos hulle aan die hel en verdoemenis oorgelewer te word. God sien ons egter in genade aan, nie uit verdienste nie, maar deur die bloed van ons Here Jesus Christus. Hy het sy bloed vir ons sondes gestort en so ons straf gedra. Deur sy kruisdood en opstanding uit die dood is ons verlos van die slawerny van die sonde en die dood en mag ons as sy kinders hier op aarde lewe. Nadat die Here Jesus opgestaan het uit die dood en opgevaar het na die hemel, is die Satan op die aarde gewerp, waar hy rondgaan soos ’n brullende leeu om te kyk wie hy kan verslind.

Ons is op aarde in ’n stryd gewikkel. Ons moet vreemdelinge wees in hierdie wêreld. Die wêreld moet aan ons kan sien dat ons anders is – kinders van God. Nie tot eer van onsself nie, maar uit dankbaarheid, tot eer van sy naam. Vir hierdie doel het die Here aan ons riglyne, sy wet en Woord, gegee. Nie sodat ons daaronder gebuk moet gaan nie, maar om ons van hierdie slawerny te verlos. Volgens hierdie riglyn leer die Here Jesus ons in Matt. 22:37–40:

"Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete."

Die groot taak van ouers en opvoeders in hierdie lewe, is om ons kinders in bogenoemde leer te onderrig en te laat onderrig. Ons het immers by die doop van ons kinders hierdie belofte gemaak! Dit is egter geen gemaklike taak nie. As kinders van God, kom die wêreldse invloede soos ’n oop riool ons huise binne. Die duiwel maak ons mak en voor ons weer sien kom ons dit nie eens meer agter nie. As gelowiges moet ons hierteen waak, mekaar help en ondersteun. Onthou ons is op aarde in ’n stryd gewikkel. ’n Stryd wat ons nie mag opgee nie.

Kom ons vat as ouers en onderwysers hande saam in hierdie saak. God vra dit van ons. Dit is ons opdrag. Ons het dit immers belowe!

DISSIPLINE
Hoewel gesag, wat ook dissipline impliseer, in baie opvoedingsituasies in diskrediet geraak het, weet ons dat geen sinvolle opvoeding sonder dissipline kan plaasvind nie.

Gesag en ontsag is woorde wat al vir ’n geruime tyd nie meer so geliefd en populêr is nie. Die sogenaamde anti-outoritêre opvoeding impliseer gelykheid, verwar liefde met toegeeflikheid en durf geen duidelike grense stel nie. Dit het saamgewerk dat die gebod "eer jou vader en jou moeder" uit die opvoeding geskrap is. In Efesiërs 6 word kinders gemaan tot gehoorsaamheid en die ouers ontvang die opdrag om hul kinders op te voed. Wanneer die opvoeder se gesag egter verslap, neem die kind se ontsag of respek baie vinnig af.

God is die absolute Gesagsdraer. Hy het die mens, ook die opvoeder, met gesag beklee. Om beelddraer van God te kan wees is die erkenning van gesag en die koestering van ontsag en respek onmisbaar. Was dit nie juis die ongehoorsaamheid van die mens wat hom sy volmaakte beelddraerskap ontneem het nie?

In ’n tyd waar gesag debatteer- en onderhandelbaar geword het, moet ons ons kinders opvoed. Dit infiltreer die opvoedingsituasie in ons huise en skole. Ons moet nie die invloed van die massamedia, portuurgroep en die tydsgees van permissiwiteit en sekularisme onderskat nie.

In elke opvoedingsituasie is eenvormige en konsekwente dissipline absoluut noodsaaklik. Dit verskaf aan die kind veiligheid en geborgenheid. Daarsonder is opvoedende onderwys tot volwassenheid nie moontlik nie.

Vir opvoeders is dit baie belangrik om te besef dat dissipline en liefde altyd bymekaar hoort. Die Here wys vir ons in die Bybel dat die verhouding tussen ’n opvoeder en die kind ’n afspieëling moet wees van God met sy kinders. Hebr. 12:1–5 gee ook duidelike riglyne hoe God wil hê dat ouers hulle kinders vol liefde en dissipline moet opvoed. In talle Bybelgedeeltes (veral in die boek Spreuke) word dissipline en tug, ingebed in ’n atmosfeer van liefde, beklemtoon. Behalwe die opdrag van God, is die aanvaarende en begrypende opvoeder se sterkste hefboom in die handhawing van dissipline, juis die verhouding wat hy met die kind het. Wanneer die verhouding op wedersydse respek gebou is, gee dit ’n "goeie beheer" oor die kind. Hierdie "beheer" moet egter geleidelik verminder, omdat die opvoeder-dissipline met self-dissipline vervang moet word. Die kind moet dus aan die hand van dissipline stelselmatig meer verantwoordelikheid aanvaar.

Die beste sleutelwoorde om die opvoeder se gesagsverhouding met die kind te beskryf, is waarskynlik "positiewe konsekwente" dissipline.

Begrip
Dissipline moet altyd met die nodige begrip toegepas word. Die kind se ouderdom, ontwikkelingsfase en omstandighede moet in ag geneem word. Probeer dus om die kind in terme van sy ondervinding en ervaring te verstaan. Begrip gee oor die algemeen vir die kind ‘n positiewe ingesteldheid.

Respek
Kinders het meestal meer behoefte aan goeie opvoeder-modelle as aan aanhoudende kritiek. Die opvoeder se optrede moet respek by die kind afdwing. In ’n warm, koesterende klimaat waar daar ’n vertrouensverhouding is en die kind sy opvoeder respekteer sal die kind gedy.

Konsekwentheid
Konsekwentheid is baie belangrik, maar dan nie in die sin dat ons iets "honderdmaal sê" nie. As dit voldoende was, sou ’n bandmasjien ’n beter opvoeder wees. Wanneer ’n opdrag gegee is, moet konsekwent toegesien word dat dit uitgevoer word. Dit is beter om vyf reëls 100% van die tyd toe te pas as om tien reëls 50% van die tyd toe te pas. Verder is dit van groot belang dat die opvoeders nie moet verskil in hul toepassing van hul dissipline nie. Wanneer opdragte gegee word, moet dit vriendelik, dog beslis wees. Opdragte moet duidelik en spesifiek wees. Wees onpersoonlik as u die reëls stel, bv. "Dis slapenstyd" in plaas van "Ek wil hê dat julle nou bed toe gaan." ’n Kort, duidelike motivering help baie keer om dissiplinêre probleme te voorkom. Hierdie motivering is egter nie ’n regverdiging van die ouer se gedrag teenoor die kind nie.

Straf
Vir baie opvoeders is dissipline dieselfde as straf. Dis ’n baie ernstige wanopvatting. Daar is niks so nadelig vir dissipline as die oormatige en taktlose toepassing van straf nie. Andersyds weet elke opvoeder ook uit die praktyk, dat al wil hul liewer ’n meer positiewe benadering volg as om te straf, dit soms noodsaaklik is om so hul gesag te kan handhaaf. Wanneer daar gestraf word, moet daar ’n duidelike onderskeid getref word tussen: die opvoeder se liefde vir die kind en die gedrag van die kind wat afgekeur word. Straf mag nooit ’n uiting van die opvoeder se woede of frustrasie wees nie. Maak altyd seker dat die kinders die reëls wat van toepassing is ken en begryp. Straf so gou as moontlik sodat die kind weet waarvoor hy/sy gestraf word. Die straf moet in verhouding met die oortreding wees. Wees konsekwent in waarskuwing en straf. Wees regverdig. Kinders is uiters skerpsinnig om enige vorm van onregverdigheid onmiddelik op te merk. Wees versigtig met groepstraf.

Die belangrikste saak in die ontwikkeling van selfdissipline, waarvan straf ’n onderdeel is, is dat die kind iets moet leer uit die dissiplinêre situasie. Die uiteindelike doel van die straf moet wees om tussen die regte en die verkeerde (goed en kwaad) te kan onderskei en om God só in gehoorsaamheid te kan dien.

Dissipline in die praktyk:
Daar word nie net van die onderwysers verwag om dissipline in hul klas te hou nie, maar moet ook toesien dat die skoolreëls in die hele skool nagekom word. Elke personeellid moet op hoogte wees van wat geskryf staan in die dissiplinêre beleid en daarvolgens optree. Ernstige oortredings moet na die skoolhoof verwys word. Indien ’n leerling hom of haar skuldig maak aan herhaalde oortredings moet die ouers verwittig word.

In die senior fase is daar in elke klas ’n interfensie lêer waarin leerders wat herhaaldelik dieselfde soort oortreding begaan, se name geskryf word. Die aksie deur die personeellid onderneem en die datum word ook bygevoeg. Wanneer daar duidelike voortuitgang by die leerder t.o.v. hierdie spesifieke saak opgemerk word, word dit ook in die lêer aangeteken.

Leerders weet van die lêer en die personeel gebruik dit ook in kommunikasie met ouers. Moet egter nie wag tot oueraand voordat die eerste keer aan ouers sekere probleme gekommunikeer word nie!

Strawwe soos inbly in pouse moet verkieslik spaarsamig uitgedeel word, aangesien die skool ’n beleid het dat leerders so veel as moontlik buite moet speel, t.w.v. vars lug, beweging en sonlig. Personeellid sal dan ook in klas aanwesig moet bly anders het straf geen sin nie.

Strawwe wat by oortreding pas, het meestal baie beter effek. Strawwe wat die weerhouding van voorregte behels, word aanbeveel. Byvoorbeeld: nie snoepie toe gaan nie, nie in tuintjies werk nie, geen storietyd nie ens.

SKOOLREëLS
Die volgende optrede word van die leerders verwag:
  • Leerders moet te alle tye respek teenoor ouer persone toon.
  • Leerders moet vriendelik wees met mekaar en besoekers.
  • Leerders moet hulle eie besittings en die skool se eiendom netjies oppas.

Die volgende is verbode:
  • Hardloop en raas in die gange.
  • Klim in bome en oor heinings.
  • Verlaat van die skoolgronde sonder toestemming.
  • Gewelddadige speletjies.
  • Rommel strooi.
  • Die rondgooi van enige besittings.
  • Speel op die kerkgronde.
  • Rondryery op fietse tussen motors.
  • Speelgoed en ander items van waarde skool toe bring.
  • Lelike of vuil taalgebruik.
  • Alleen wag onder op die parkeerarea.
  • Toegang tot die geboue voorskool en in pouse.
  • Balspele in geboue.
  • Selfone mag nie aangeskakel wees tydens skoolure nie.

OLYFBOOMPIE PRE-PRIMêR SKOOLREëLS
Leerders van die Olyfboompie Pre-Primêr sal alle gewone skoolreëls wat vir GLB-leerders geld, en wat op hulle van toepassing is, moet nakom (verwys na item 7 van hierdie brosjure).

Daar is verder addisionele reëls met die oog op die unieke karakter van ‘n gr. R-klas en ook t.w.v. die veiligheid van die gr. R-leerders. Die volgende reëls is deur juffrou Anita vasgestel en word ook so deur haar verduidelik:
  • Leerders moet verskieslik voor 13:00 by die kleuterskool gehaal word. Reël asb. met die my indien u ‘n probleem het met bogenoemde tyd.
  • Leerders moet by die kleuterskoolhek gehaal word. Geen leerder sal toegelaat word om alleen die skoolterrein te verlaat nie.
  • Reël asb. met my indien iemand anders u kind by die skool kom haal.
  • Die graad R'e mag elke dag ’n broodjie of ander gesonde kos bv. droë wors, vrugte, kaas, worteltjies ens. saambring skool toe. Hulle sal een keer in die dag geleentheid kry om ietsie te eet.
  • Bottels vir koeldrank en water moet asb. goed toemaak en nie lek nie.
  • Leerders mag geen lekkergoed saamneem skool toe nie, tensy daar genoeg is dat die hele klas kan kry.
  • Elke tien dae word daar ’n spesifieke tema behandel. Moedig u kind aan om boeke, prente, voorwerpe en speelgoed oor die tema saam te neem skool toe. Dit wek die kind se belangstelling op en gee u betrokkenheid by sy/haar leefwêreld.
  • As u kind verjaar maak ons dit ’n spesiale dag. U kind kry ’n kroon om te dra, ons sing verjaarsdagliedjies en hy/sy mag kersies doodblaas. U kind mag op hierdie dag iets kleins om te eet aan die klasmaats uitdeel.
  • By die skool gaan ons leer, ontdek, speel, verf en allerhande lekker “vuil word” aktiwiteite doen. Om hierdie rede vra ek dat u u kind nie in sy/haar nuutste klere skool toe stuur nie. Stimuleer u kind om kaalvoet skool toe te kom. Dit bevorder sy/haar balansering en sensoriese ontwikkeling. Laat weet my asb. vroegtydig as u kind NIE sy/haar skoene mag uittrek nie.
  • Elke Vrydag is dit speelgoed-dag. Op die dag mag u kind EEN(1) van sy/haar speelgoed saambring skool toe. U kind mag dan ook sy/haar eie fietsie bring. Aangesien speelgoed kan breek, raai ek aan dat u kind nie sy/haar nuutste/duurste speelgoed saambring nie. Onthou dat u onder geen verpligting staan om speelgoed saam te stuur skool toe nie. As u kind nuwe speelgoed gekry het, mag hy/sy dit by die skool kom wys op enige dag, hulle mag egter nie daarmee speel as dit nie speelgoed-dag is nie.
  • Vrydae is gewoonlik ook fietsie-dag. Leerdertjies mag hul trapfietse, skopfietse en steps saambring. Hou gerus u kind se boodskapboekie dop in hierdie verband.
  • Deel van die skryfbehoeftes wat u aangekoop het, is ’n harde band boekie. Hierdie is u kind se boodskapboekie, dit moet asb. op die eerste skooldag oorgetrek (ook met plastiek) by die skool wees.
  • Kontroleer asb. elke dag die boodskapboekie vir ’n briefie/nota en teken daarby.
  • Ander skryfbehoeftes wat u aangekoop het, moet ook asb. op die eerste skooldag by die skool wees. Behalwe vir die A4-lêer waarin ek u kind se werkies bêre as deel van sy / haar portefeulje, hoef geen ander skryfbehoeftes gemerk te word nie. Ons werk almal saam met al die skryfbehoeftes.
  • Trek asb. die A4-lêer met vrolike papier en stewige plastiek oor.

AFWESIGHEID
Wanneer leerders afwesig gaan wees, verwittig die ouers gewoonlik die personeel op die oggend van die betrokke dag. Afwesige leerders moet deur die klasonderwyser in die afwesigheidsregister aangeteken word. Die afwesigheidsregister word aan die einde van elke kwartaal opgeneem deur die sekretaresse. Geen onderwyser mag aan enige leerder toestemming gee tot afwesigheid nie, behalwe in uitsonderlike gevalle wat eers met hoof bespreek moet word. Daar word van leerlinge verwag om die werk wat gemis is in te haal, dit geld veral vir die intermediêre fase klasse. Wanneer ‘n leerder meer as een dag afwesig is, kan die betrokke werk saam huis toe gestuur word.

VERLOF OM DIE SKOOLTERREIN TYDENS SKOOLURE TE VERLAAT
Hierdie verlof sal slegs in uitsonderlike gevalle, soos siekte of begrafnis toegestaan word. Vakansies, naweke, tuishulp, iemand by die lughawe gaan haal, nie-dringende tandarts of doktersbesoeke, ens. is nie geldige redes om leerders tydens skoolure tuis te hou nie. Vermy asseblief enige versoeke in die verband.