Visie

Opvoeding en onderrig wat dissipelskap tot gevolg het

Hierdie dissipelskap bestaan uit: ’n lewe van biddende diens in God se koninkryk; ’n lewe waarin God se liefde weerspieël word en ’n lewe van waarheid en reg. Om by hierdie visie uit te kom, wil ons veral fokus op:

  • Onthulling van leerlinge se gawes
    Ons wil leerlinge die geleenthede bied waarin hulle hul gawes op akademiese-, kulturele- en sportgebied optimaal kan ontwikkel. Leerlinge moet gestimuleer word om deur hul gawes vrugte van die gees te ontwikkel. Ons wil leerlinge leer dat hierdie Godgegewe gawes nie primêr tot hul eie persoonlike groei en voordeel ontwikkel moet word nie, maar sodat hulle in hul uniekheid, God en hul naaste daarmee kan dien (Rom. 12:3–8).
  • Deel mekaar se vreugdes en hartseer
    Ons wil leerlinge leer wat dit beteken om deel te vorm van die gemeenskap van die heiliges (lid van een liggaam). Dat ons geduld moet hê met mekaar se gebreke, vir mekaar se nood bid en saam die Here dank in tye van blydskap. Kortom om in liefde met mekaar om te gaan en mekaar te ondersteun.
  • Soek "Shalom"
    Ons wil leerlinge leer om die ware vrede te soek. Hierdie vrede is die hemelse vrede en geregtigheid wat die gebrokenheid genees en die skepping herstel soos God dit bedoel het. Hierdie vrede kan ongelukkig net gebrekkig gebring word deur die liefde wat ons uitstraal teenoor ander in nood. Dit is ’n soeke na herstelde verhoudings tussen mens en God; mens en mens en mens en aarde.

In al hierdie dinge wil ons diensbaar wees in God se koninkryk en bid ons vir sy wysheid en leiding.

Missie

Daar is amper geen skool meer vandag wat sonder ’n missie en visie funksioneer nie. Dit is egter baie makliker om so iets op te stel as om seker te maak dat dit wel in die dag tot dag program funksioneer.

Skole gee vorm aan konsepte en idees. Hulle vorm gesindhede, waardes en vaardighede. Hulle leer van die verlede, let op die hede en dink saam oor die moontlikhede van die toekoms, beide op persoonlike vlak, maar ook vir die gemeenskap. Skole gebruik basiese oortuigings om die oorkoepelende onderwyskundige rigting aan te toon. Onderwysers se siening oor mense en die doel en betekenis van die lewe beinvloed hoe hulle skakel met mense en wat en hoe hulle kies om te onderrig. Onderwys is altyd godsdienstig in die sin dat dit nie anders kan as om gebaseer te wees op een of ander geloofsoortuiging of ideaal nie. Hierdie basiese oortuigings vind ons ook in enige staatskool se misie en visie. Dit sluit in dat ons gemeenskap die diversiteit binne ons land moet aanvaar en nie moet streef daarna dat ons almal dieselfde moet wees nie. Skole moet ook leerlinge in die eerste plek voorberei om hul plek in die samelewing en maatskappy te kan volstaan. Alhoewel al hierdie dinge waardige doele nastreef, bly dit egter maar beperk.

Voorbeeld:

Ons skool wil studente help om die nodige kennis, vaardighede en gesindhede aan te kweek wat nodig is om optimaal te funksioneer binne ’n diverse kultuurgemeenskap, sodat hulle gerespekteerde en selfversorgende burgers kan wees wat ’n bydrae kan lewer tot ’n volhoubare ekonomie.

’n Christelike missie en visie spreek tog van soveel meer.

Ons skool wil ’n lerende samelewing wees wat sy leerlinge stimuleer en aanmoedig om volgelinge van Jesus Christus te word of te wees en die gawes en hulpbronne wat beskikbaar is verantwoordelik en kreatief aan te wend in diens van God se koninkryk en ons naaste.

’n Belangrike tema wat sentraal staan in die onderwysing van Jesus Christus en die basis moet vorm van die missie van ’n Christelike skool is die Koninkryk van God. Die visie oor die koninkryk van God wys Christene nie net na die verlossing van God se kinders nie, maar ook die verwesenliking van God se intensies en beloftes vir sy hele skepping en vir sy kinders. Die koninkryk van God is die teken van God se bevryding of herskepping. Die hele lewe en omstandighede moet deur God se genade en krag verander word. Die vervulling van hierdie Koninkryk van God het begin met die dood en opstanding van Jesus Christus. Die finale betekenis sal by die terugkeer van Christus geopenbaar word. Die groot geskenk van God is dat die saad van die Koninkryk, tenspyte van ons tekortkomings en sonde, reeds teenwoordig is. Christelike skole mag daarom nou al kinders uitdaag en voorberei om burgers van hierdie koninkryk te wees. Aan die een kant weet ons dat Christus reeds hierdie Koninkryk gevestig het en aan die anderkant weet ons ook dat dit in hierdie lewe nooit sy volmaakte vervulling sal vind nie. Om kinders te help om burgers van hierdie Koninkryk te wees, het verskeie implikasies vir die onderwys:

  • Alhoewel skole ’n baie groot verantwoordelikheid het rondom die onderrig van die kinders, moet ’n Christelike skool se instruksies wel God se oproep tot berou, bekering en gehoorsaamheid duidelik laat hoor. Ons toegewydheid hierin affekteer immers ons hele lewe.
  • Burgers van God se Koninkryk is nie individuele navolgers van Christus nie, maar ook lede van die Liggaam van Christus. God roep ons op om ons gawes en talente in diens van die hele liggaam te stel. Christelike skole moet die oefenterrein wees waar kinders leer om dit waar te maak.
  • Burgers van God se Koninkryk het ook ’n mandaat gekry: "Gaan dan heen en maak dissipels van al die nasies … en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het." Matt. 28:19. Christelike onderwysers moet Christus se onderwysings bestudeer en verstaan sodat hulle dit in die skool kan toepas. Hulle moet die studente aanmoedig om gehoor te gee aan hul roeping as kinders van God.
  • Burgers van God se Koninkryk lewe die vrugte van liefde, diens en waarheid uit. Die skool se onderwysprogram moet kinders geleenthede bied waarin hulle hul geloof in die praktyk kan toepas.
  • Die Christelike skool moet ’n bewys wees van God se Koninkryk in hierdie wêreld. ’n Skool moet deur sy bestaan in die sekulêre wêreld die sy leerplanne die komende Koninkryk van God aktief bevorder. Dit moet in die gemeenskap ’n monument wees van die feit dat Christus ons hele lewe beheer en eis. Ook ons onderwys.

Ons Christelike skool met sy Christelike onderwysers is nie naastenby volmaak nie. Inteendeel, die sonde beinvloed ons almal se lewe in ’n meerder of mindere mate. Dit is ook waar vir alle institusies wat God se beloftes aangryp en die komende koninkryk van God verkondig. Tog wil God in sondige Christelike onderwysers werk "om te wil sowel as om te werk na sy welbehae" sodat ons mag "skyn soos ligte in die wêreld, omdat ons die woord van die lewe vashou" Fil. 2:13, 15, 16.

Ons doel is om kinders op te voed tot volwasse persone wat bereid en geskik is om die gawes wat hulle van God ontvang het, te gebruik tot sy eer, tot heil van die naaste en tot ontplooiing van die skepping en die ontwikkeling van kultuur, in alle lewensverbande waarin God hulle ’n plek gee. Dit kan soos volg saamgevat word:

  • Om in alles ’n kind van die Here te wees.
  • Verwondering: Die kind moet insig in, en ontsag en dankbaarheid vir die Skepping van God hê: Om in die hele skepping God se skeppende en onderhoudende hand te leer sien.
  • Diens: Die kind moet in liefde tot God en sy naaste lewe.
  • Om die geeste te kan beproef, d.w.s. onderskeidingsvermoë te leer.
  • Gehoorsaamheid: Om in alles gehoorsaam aan die Here wees en daarom ook aan die gesagsdraers wat deur God oor hom aangestel is.
  • Gewetensvorming: Om die Bybel as Woord van die Here te erken. Die kind moet die norme en waardes van die Bybel aanvaar en sy eie maak; en om te leer om keuses te maak en sake te beoordeel vanuit ’n gereformeerde verwysingsraamwerk.
  • Selfstandigheid: Die kind moet leer om mettertyd sonder die hulp van ’n volwassene op te tree.
  • Verantwoordelikheid: Die kind moet leer om aanspreeklikheid vir die gevolge van sy/haar optrede te dra of aanvaar.
  • Om kreatief te wees.
  • Om balans in die lewe te leer.
  • Om veranderende omstandighede te kan hanteer.
  • Kennis: Die kind moet ’n bepaalde vlak van kennis van die Bybel hê, maar ook van die geskape wêreld en die samelewing.
  • Ontplooiing: Om die gawes wat van God ontvang is, optimaal te ontplooi.
  • Om die kind te help om sy eie identiteit te ontwikkel.
  • Om mense van ander volke en kulture te leer ken en te respekteer.

My Taak

Little Teddy Stoddard

There is a story many years ago of an elementary teacher. Her name was Mrs. Thompson. And as she stood in front of her 5th grade class on the very first day of school, she told the children a lie. Like most teachers, she looked at her students and said that she loved them all the same. But that was impossible, because there in the front row, slumped in his seat, was a little boy named Teddy Stoddard. Mrs. Thompson had watched Teddy the year before and noticed that he didn't play well with the other children, that his clothes were messy and that he constantly needed a bath. And Teddy could be unpleasant. It got to the point where Mrs. Thompson would actually take delight in marking his papers with a broad red pen, making bold X's and then putting a big "F" at the top of his papers. At the school where Mrs. Thompson taught, she was required to review each child's past records and she put Teddy's off until last. However, when she reviewed his file, she was in for a surprise. Teddy's first grade teacher wrote, "Teddy is a bright child with a ready laugh. He does his work neatly and has good manners...he is a joy to be around." His second grade teacher wrote, "Teddy is an excellent student, well liked by his classmates, but he is troubled because his mother has a terminal illness and life at home must be a struggle." His third grade teacher wrote, "His mother's death has been hard on him. He tries to do his best but his father doesn't show much interest and his home life will soon affect him if some steps aren't taken." Teddy's fourth grade teacher wrote, "Teddy is withdrawn and doesn't show much interest in school. He doesn't have many friends and sometimes sleeps in class." By now, Mrs. Thompson realized the problem and she was ashamed of herself. She felt even worse when her students brought her Christmas presents, wrapped in beautiful ribbons and bright paper, except for Teddy's present which was clumsily wrapped in heavy, brown paper that he got from a grocery bag. Mrs. Thompson took pains to open it in the middle of the other presents. Some of the children started to laugh when she found a rhinestone bracelet with some of the stones missing, and a bottle that was one quarter full of perfume. But she stifled the children's laughter when she exclaimed how pretty the bracelet was, putting it on, and dabbing some of the perfume on her wrist. Teddy Stoddard stayed after school that day just long enough to say, "Mrs. Thompson, today you smelled just like my Mom used to." After the children left she cried for at least an hour. On that very day, she quit teaching reading, and writing, and arithmetic. Instead, she began to teach children. Mrs. Thompson paid particular attention to Teddy. As she worked with him, his mind seemed to come alive. The more she encouraged him, the faster he responded. By the end of the year, Teddy had become one of the smartest children in the class and, despite her lie that she would love all the children the same, Teddy became one of her "teacher's pets." A year later, she found a note under her door, from Teddy, telling her that she was still the best teacher he ever had in his whole life. Six years went by before she got another note from Teddy. He then wrote that he had finished high school, third in his class, and she was still the best teacher he ever had in his whole life. Four years after that, she got another letter, saying that while things had been tough at times, he'd stayed in school, had stuck with it, and would soon graduate from college with the highest of honors. He assured Mrs. Thompson that she was still the best and favorite teacher he ever had in his whole life. Then four more years passed and yet another letter came. This time he explained that after he got his bachelor's degree, he decided to go a little further. The letter explained that she was still the best and favorite teacher he ever had. But now his name was a little longer -- the letter was signed, Theodore F. Stoddard, M.D. The story doesn't end there. You see, there was yet another letter that spring. Teddy said he'd met this girl and was going to be married. He explained that his father had died a couple of years ago and he was wondering if Mrs. Thompson might agree to sit in the place at the wedding that was usually reserved for the mother of the groom. Of course, Mrs. Thompson did. And guess what? She wore that bracelet, the one with several rhinestones missing. And she made sure she was wearing the perfume that Teddy remembered his mother wearing on their last Christmas together. They hugged each, and Dr. Stoddard whispered in Mrs. Thompson's ear, "Thank you Mrs. Thompson for believing in me. Thank you so much for making me feel important and showing me that I could make a difference." Mrs. Thompson, with tears in her eyes, whispered back. She said, "Teddy, you have it all wrong. You were the one who taught me that I could make a difference. I didn't know how to teach until I met you.

Mag hierdie verhaal u inspireer …

Tuinmaak deur die Heilige Gees

Hoe funksioneer ons as geestelike leiers in die klaskamer? Dit is die baie belangrike vraag waarmee ons as personeel ons gereeld besig moet hou. Is ons goeie "tuiniers"? Die Bybel gebruik immers baie keer metafore om ons verhouding met die Here te beskryf. Een hiervan is die tuin. Psalm 1 beskryf pragtig hoe die een wat God se woorde oordink soos ’n boom is wat langs ’n waterstroom geplant staan en vrugte dra. Ons ken ook die gelykenis van die saaier uit die evangelies en in 1 Kor. 3:6 lees ons: "Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei."

Ons wat onderwys gee is geestelike leiers, medetuiniers met Paulus. Ons klaskamers is soos klein tuintjies waar die Heilige Gees die kinders laat groei in hul geloof. Daarom is dit so belangrik om kritiese vrae aan onsself te stel: Wie is ek as tuinier? Met watter grond werk ek en hoe kan ek hierdie grond verbeter? Hoe versorg ek die plante sodat hulle kan groei in God se tuin tot sy eer? Wie is my mede-tuiniers?

As tuinier moet ek die grond bewerk en voeding gee waar nodig. Ek moet die saad plant en dit natgooi volgens elkeen se spesifieke behoefte. Sommige plantjies moet in die skaduwee staan en ander in die son. Sommige moet gesnoei word en ander moet ek help rank. Ek moet die peste en plae wat elkeen bedreig verwyder en die onkruid uitroei. Is dit hoe ons by GLB besig is? Is dit hoe ons ouers, geestelike leiers, by die huis besig is? Is ons bly met elke plantjie se verskillende vrugte. Bly dat God ’n verskeidenheid vrugtebome geskep het, wat elkeen volgens sy eie omstandighede vrugte dra? Wag ons opgewonde vir die eerste blaartjies om bo die grond te verskyn of die eerste blommetjie of vruggie aan die takkies? Is ons nog opgewonde oor die geestelike groei wat plaasvind by ons kinders of word dit oorskadu deur soveel ander dinge wat vir die wêreld belangrik is?

Gee ons vir elkeen van ons plantjies genoeg ruimte om te kan groei volgens sy tempo, sy grond, sy spesifikasies of wil ons van elke plantjie ’n tamatieplantjie maak, wat vanself opkom, in enige grond en omstandighede groei en met min moeite ’n vrag vrugte dra? Die groot Tuinier het in sy alwysheid ’n groot verskeidenheid plante geskep. Ons mag in sy tuin saamwerk, pligsgetrou en geduldig ons arbeid verrig, in die wete dat Hy die plantjies beskerm en hulle laat groei.

Die paradoks van hierdie metafoor is natuurlik dat ons self ook maar net plantjies is in God se groot tuin. Hy kom egter met die bemoedigende woorde van 2 Kor 4:7 na ons toe:

"Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie".

God vra net gehoorsame tuiniers, wat lief is vir sy plantjies.

Gereformeerde Onderwys is Verbondsonderwys

In die Jordaanriviervallei het vir lank ’n stapel klippe gestaan. Hierdie klippe is opgestapel deur die oudste van elke stam net nadat die volk Israel droogvoets deur die Jordaan getrek het. Dit was ’n gedenkteken – ’n opdrag van God.

Wat was dan die doel van hierdie monument?

Ons lees die antwoord in Josua 4:6, 7:

“As julle kinders later vra en sê: Wat beteken hierdie klippe vir julle? moet julle vir hulle sê: Omdat die water van die Jordaan afgekeer is voor die verbondsark van die Here by sy deurtog deur die Jordaan – die water van die Jordaan is afgekeer; daarom is hierdie klippe as ’n aandenking vir die kinders van Israel vir altyd.”

Hierdie klippe was dus ’n gedenkteken dat God, voor sy volk uit, sy kinders in die beloofde land ingelei het. Maar meer nog. Dit roep herinneringe op van vierhonderd jaar se slawerny. Van God se bevryding uit Egipte. Van sy beskerming en versorging in die woestyn. Van ’n volk se ongehoorsaamheid en van ’n God wat trou is aan sy beloftes. ’n God wat self sy kinders die beloofde land in lei. Ja, ook die toekomstige beloofde land.

Hierdie is slegs een teken van baie wat die Here gegee het om die volk te herinner aan sy groot wonderdade in hulle lewens. Dink maar aan die verskillende offers en feesdae wat die Here in die Ou Testament ingestel het as sigbare tekens van sy almag en liefde. Watter klein Israeliet sou nie grootoog sit en luister het as die oudste van die gesin aan hulle die betekenis van die Pasgafeesvieringe vertel het nie? So het die Here sy wonderdade van die een geslag op die volgende bekend gemaak.

Soos u weet was dit die taak van die ouers om die weë van God se verbond aan hulle kinders, aan sy kinders te leer. Dan sou die Here hulle seën. Die skrifgedeeltes hieroor is bekend. In Genesis 18:19 spreek die Here met Abraham soos volg:

"Want Ek het hom verkies dat hy aan sy kinders en sy huis ná hom bevel sou gee dat hulle die weg van die Here moet hou om geregtigheid en reg te doen; sodat die Here oor Abraham kan bring wat Hy oor hom gespreek het."

Ook in die bekende gedeelte, Deut. 6:4–9 kry die ouers die opdrag om die wil van die Here aan hulle kinders te leer. So leer Ps. 78:5–7:

"Hy tog het ’n getuienis opgerig in Jakob en ’n wet gegee in Israel, wat Hy ons vaders bevel het – om dit aan hulle kinders bekend te maak, sodat die volgende geslag dit kan weet, die kinders wat gebore word, dat hulle kan opstaan en vertel aan hulle kinders, en hulle vertroue op God kan stel en die dade van God nie vergeet nie, maar sy gebooie kan bewaar …"

Ouers (ook moeders, Spreuke1:8; 31:1) moes hulle kinders begelei en brei in die weë van die Here sodat hierdie kinders kan lewe voor God. Ja, om ewig te lewe onder sy seënende hand.

Dit is verbondsonderrig. ’n Onderrigstelsel wat deur God vanaf Abraham se tyd self ingestel is.

Beteken dit dat omdat hierdie tipe onderrig en opvoeding uit die Ou Testament kom dit vandag oudtyds of oudmodies is? ’n Onderwyssisteem wat spesifiek opgestel is vir die mense van daardie tyd? Nee. Die doel waarvoor ons geskape is bly tog dieselfde: Ons moet lewe tot eer van God, uit dankbaarheid vir wat Hy elke dag vir ons genadiglik skenk. Ons moet ook die aarde en alles daarop regeer en bewaar.

Hoe kan ons dit doen as ons Hom nie ken, nie sy wonders in ons lewe elke dag raaksien en nie weet hoe Hy wil hê ons moet lewe nie? Hiervoor het God die verbondsonderrig ingestel en daarom geld dit vandag nog.

En wat is Gereformeerde onderrig anders as verbondsonderrig? Dit is immers waarin ons verskil van staatskole. By staatskole word leerders opgevoed om eendag goeie burgers te wees van die spesifieke land. Ons daarenteen voed ons leerders op met ’n ewigheidsdoel in gedagte – nl. God se koninkryk. ’n Groot verskil, ’n baie belangrike verskil – ’n groot verantwoordelikheid. Ons het dit immers aan God belowe by die doop van ons kinders.

’n Groot twispunt hieromtrent is natuurlik: Wie is almal verbondskinders? Wie is geregtig op sulke onderwys en wie laat ons toe by ons skole? Die gereformeerde skool en sy kurrikulum is gegrond op die onfeilbare Woord van die Here, wat bely word in die Drie Formuliere van Eenheid. Die oogmerk van die opvoeding en onderwys in hierdie tipe skool is om elke leerder te lei om God te dien volgens sy Woord, om al sy gawes tot God se eer en tot heil van sy naaste aan te wend op alle terreine van die lewe. Hierdie oogmerk val uiteen in verskeie fundamentele doelstellings waarvolgens die onderwysers die leerders opvoed.

Hoe vind al hierdie aktiwiteite plaas binne die alledaagse skoolopset? Aangesien alle deelnemende persone verbondskinders is (onderwysers, leerders en ouers), vind alle aktiwiteite plaas binne en deur die gemeenskap van die heiliges. Dit bepaal ons gedrag en houding teenoor mekaar. Ons sien mekaar as kinders van God, wat in sonde ontvang en gebore is, verlos is deur die soendood van ons Here Jesus Christus en daarna streef om in dankbaarheid ’n lewe te lei tot eer van God, ’n lewe vol van die vrugte van die Gees. Dit is bepalend vir die wyse waarop ons die skoolbestuur, mekaar ondersteun, die voorbeeld wat ons stel teenoor mekaar, dissipline handhaaf, die aktiwiteite waaraan ons deelneem en die manier waarop ons klasgee.

Aangesien ons saam streef na ’n hoër doel, behoort die twee bene van gereformeerde onderwys, nl. onderrig en opvoeding so nou verweef te wees dat daar geen onderskeid tussen die twee behoort te wees nie. By geen geleentheid behoort die twee duidelik afgekamp te wees nie. Opvoeding vind immers nie net plaas deur wat ons sê nie, maar ook deur ons houding teenoor ons werk, ons voorbeeld en die manier waarop ons met mekaar en met die leerders omgaan. Gereformeerde onderwys is immers ’n verlenging van die ouerhuis. Alle interaksie met leerders behoort daarom deur liefde gekenmerk te word – Ons jong broeders en susters van Christus se gemeente – kinders van God.

Is dit altyd maklik? Nee. As sondige mense wat in ’n sondige wêreld lewe is ons in al die bogenoemde maar gebrekkig. Dit is dus ’n groot verantwoordelikheid wat elke gereformeerde onderwyser op hulself geneem het, die dag toe hulle die betrekking by ’n gereformeerde skool aanvaar het. Met die aanvaarding van die betrekking het die opvoeding van God se verbondskinders nie net ’n roeping gword nie, maar ook ’n prioritiet. In feite maak elke gereformeerde onderwyser saam met elke doopbelofte die belofte saam met die ouers. Dit geld net so vir die skoolbestuur. ’n Groot verantwoordelikheid, Een wat ons gelukkig nie alleen hoef te dra nie. God wil gereformeerde onderwysers immers as sy instrumente in sy koninkryk gebruik. Daarom mag ons ook weet dat Hy ons alles sal gee wat ons daarvoor nodig het. Ons moet Hom net daarvoor bid.

Die opvoeding van ons kinders is knieëwerk.

Netsoos in so baie advertensies deesdae is dit belangrik om ook die volgende aan mekaar te sê: “But wait, there is more!”. God het ons skool in die afgelope 39 jaar ryklik geseën. Nie alleen het God ons geseën met kundige personeel, betrokke ouers en 73 leerlinge wat by ons skool verbondsonderrig mag ontvang nie. Nee. God se seën strek veel verder. In 39 jaar het ons as skoolgemeenskap geweldig gegroei in die verstaan van die Gereformeerde beginsel en die Gereformeerde skooltradisie. Hierdie rykdom plaas op ons ’n groot verantwoordelikheid.

Ten spyte van al die bekommernisse en probleme in ons land, het God ook in die laaste paar jaar geweldige moontlikhede geskep rondom die uitbreiding van Gereformeerde onderwys in ons land. Moontlikhede wat ons in vertroue op God se seën ook met albei hande mag aangryp. Hierin wil God ook die skoolgemeenskap van GLB as instrumente gebruik. Laat ons daarom in die komende jaar op verantwoordelike wyse teenoor mekaar en bowenal teenoor God, ons bydrae lewer. Laat ons in die komende jare in ons gebede nie alleen ons skool nie, maar ook Gereformeerde Onderwys Nasionaal aan die Here opdra.

Skoolorganisasie

Geskeduleerde vergaderings van die besture en komitees vind gereeld plaas. ’n Sakelys word voor die aanvang van ’n vergadering opgestel. Enige sake vir bespreking moet ten minste ’n week voor die vergadering aan die sekretaresse deurgegee word.

Vereniging vir Gereformeerde Skoolonderwys te Kaapstad
Die Gereformeerde Laerskool Bellville staan onder beheer van die Vereniging vir Gereformeerde Skoolonderwys te Kaapstad (VGS). Die VGS bestaan uit ongeveer 80 lede wat die skool moreel en finansieël ondersteun. Die doel van die basis van die VGS is saamgevat in sy grondwet. Vir inligting of navrae oor die inhoud van die grondwet kan u met een van die bestuurslede of die skoolhoof in verbinding tree.