Back

Beheerliggaam

Die bestuur van die VGS tree op as werkgewer van die personeel en as eienaar van die geboue en toerusting. Bestuurslede van die VGS word verkies vir ’n vasgestelde termyn. Die huidige skoolbestuur is:

Voorsitter: Rigardt Hoving
Sekretaris: Jeroen Antuma
Tesourier: Albert van der Linden
Onderhoud: Chris de Beer
Algemene lede: Niek Geerts en Kornelis Miske

Boekhouer (nie lid van Skoolbestuur): Mnr. Herman van der Linden

Moederkomitee

’n Aantal ma’s van van die skoolkinders werk saam in die Moederkomitee vir die versorging van vergaderings, die reël van fondsinsamelings ens. Hulle neem ook verantwoordelikheid vir die voorkoms en netheid van die skool. Die huidige samestelling van die Moederkomitee is soos volg:

Antoinette de Beer (sameroepster)
Riana Louw
Zendre van Eck
Elise Bijker
Nicolette Loots
Tirsa van den Berg
Willina Cilliers (alleenlik vir klerebestellings)

Die Moederkomitee, in samewerking met die graad 7’s, bedryf ook die “snoepie” by die skool. Goeie kwaliteit lekkergoed word teen baie billike pryse elke Vrydag in tweede pouse aan die leerders verkoop. In die winter word daar soms pannekoek en worsbroodjies verkoop.

GLB-Forum

Twee personeellede werk saam met twee ouers en vorm die GLB-Forum (GLBF). Die GLBF is gerig op die optimale vormgewing en funksionering van die gesamentlike onderwystaak van ouers en onderwysers.

In die praktyk beteken dit dat die GLBF sprekersaande reël oor onderwerpe wat vir ouers en onderwysers van belang is, hulle hou ook ouers op hoogte van ander opbou-geleenthede. Ons het vanaf 2011 reeds sprekers gehad oor selfbeeldvorming, outisme en die ontwikkeling van die jong kind. Ook: gespreksaande oor goeie voeding, oor goeie leesgewoontes wat die grondslag is vir leer en ook ’n aand oor hoe ons ons kinders (menslik gesproke) veilig kan hou. Ons mees onlangse gespreksessie was oor goeie leer- en studiemetodes en oor gesondheids-aanvullings.

Die GLBF streef daarna om kommunikasiekanale tussen ouers en onderwysers op informele manier te bou en oop te hou. Alle ouers van die skool en personeellede word outomaties deel van die GLBF.

Die GLBF het reeds suksesvolle sosiale funksies aangebied in die vorm van ’n piekniek en ’n sop-en-sjerrie-aand, pik-en-proe-aand en pretloop. Van hierdie funksies is gehou om fondse in te samel vir die boorgatprojek.

Die Inkopieprojek

In September 2013 is die Inkopieprojek van stapel gestuur. Die ouers van GLB het die inisiatief geneem om op volhoubare en gereelde basis fondse vir die skool in te samel, in die vorm van verkope van noodsaaklike (en ook enkele nie-noodsaaklike) kruideniersware aan ouers en enige belangstellendes. Ouers ontvang die bestellys elektronies, hul plaas hul bestelling en stuur dit per e-pos terug aan die Inkopieprojek. Betaling geskied per EFT in die projek se bankrekening of in kontant by bestelling. Vir meer inligting kan u die Inkopieprojek kontak by admin@dglb.co.za. Die winste sover is aangewend vir bydraes tot die boorgatfonds, die “Lesers is Leiers”-rekenaarleesprogram en die kunsgras by die Olyfboompie Pre-primêr.